My Hemelse Vader
Vandag wil ek my dank aan U betoon. Here baie dankie vir die hernuwing wat U in my verhouding met U gebring het. Here vanoggend het U weer direk met my gepraat oor die pad wat ek moet stap. Here en die eerste stappie wat ek moet vat is die sprong van geloof en volle vertroue op U.
Here vandag vra ek vir U leiding aangesien ek dit wat U met my gedeel het, met my familie moet deel. Here vir my om hierdie pad ten volle en met die ondersteuning van my gesin te stap, moet ons as gesin nog ‘n bietjie nader aan U en aan mekaar groei en ‘n paar verskuiwings maak.
Here die eerste verskuiwing wat ons moet maak is om ten alle tye (en nie net somtyds nie) te onthou dat die gawes wat ons ontvang het in die laaste ruk, eintlik U gawes is wat U vir ons leen en dat ons dit tot eer van U naam moet gebruik. Here ons moet tweedens as gesin onthou om tevrede te wees met dit wat ons nodig het en Here help ons om nie ons begeertes blindelings na te jaag nie, maar om eerder ons behoeftes voor U oop te sprei en te vertrou dat U aan daardie behoeftes sal voorsien.
Here in vandag se tyd en met die invloede wat rondom ons en ons kinders die teenoorgestelde skreeu, wil ek vra dat U ons as gesin sterk sal maak sodat ons die las van materialisme finaal en totaal sal kan afskud en ‘n vol lewe in U sal nastreef.
Vader ek bid dit in U Naam alleen.
Amen
Mag ek dan saam met my blog, hierdie nuwe baadjie, hierdie Priesters Kleed aantrek, en mag jy ook geïnspireer word om jou God te gaan ontmoet eerder as om net nog meer oor Hom te leer.
Friday, July 11, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment