As jong dogtertjie, in die Sesmylspruit, NG gemeente het ‘n Sondagskool juffrou eendag vir ons vertel dat ons Jesus oral saam met ons moet dra, “soos jou gunsteling pop of kombersie het sy gesê.” Nog nooit het ek regtig daardie konsep verstaan nie, Jesus is mos in ieder geval alomteenwoordig en ek hoef Hom mos nie te neem daar waar ek gaan nie, Hy is mos in elk geval daar! So het ek vir Jare lank om hierdie waarheid probeer redeneer. Eintlik het ek ook bietjie daarvan vergeet… tot nou die aand toe:
Ek en my 3 jarige seuntjie het in sy bed gaan klim om Bybel te lees en te bid. Sy hart was vreeslik seer, want sy beste maatjie en vriendin (al van dat hulle net oor 1 jaartjie oud was) het ewe skielik ander meisies ontdek en gevind dat hulle nie so rof speel of haar pragtige pienk rokkie vol grond mors nie. Hy was baie alleen en wou nie weer terug gaan skool toe nie.
In die hoop om die klein hartjie te laat beter voel en sy trane af te vee het ek vir Hom gesê dat hy nie alleen hoef te voel nie want Jesus is altyd by ons, en dat Hy in ons harte is. Nadat ons gebid het, het hy gevra of Jesus dan nou by sy keeltjie moet inklim en in sy hartjie moet gaan sit, sodat Hy die volgende dag saam met hom kon skool toe gaan.
Hoe meer ek probeer verduidelik het dat Jesus nie regtig in sy keel hoef af te klim om in sy hartjie te kom nie, hoe meer het hy gedink dat ek laf is. Maar op die ou ent van die dag is my kind met vrede skool toe en begin hy nou spontaan met sy Jesus praat.
Die Here het ook daardie aand ‘n impak op my lewe gemaak. Van daardie aand af was ek die heeltyd bewus van Sy teenwoordigheid oral waar ek gaan. EN nee dis nie ‘n negatiewe gevoel soos jou gewete wat jou pla of die idee dat ‘n groot Loer Broer vir jou kyk nie. Nee, ewe skielik het ek meer geduld as ek met my kinders of my man praat. Elke takie waarmee ek my ophou doen ek nou tot die beste van my vermoë, want Jesus is daar en Hy sien wat ek doen, al is dit net om die ontbyt koppies met ‘n glimlag op my gesig te was, of mooi te glimlag vir die dame by die tolhek betaal punt. My lewe is gevul met meer liefde, Christus se liefde en dit raak aan almal wat God op ‘n daaglikse basis oor my pad stuur.
In die Bybel below God ons Sy onbeskryflike vreugde:
HANDELINGE 2:28U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.
ROMEINE 14:17Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.
ROMEINE 15:13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
Bid saam met my:
Vader van Genade,
Vandag staan ek hier op my knieë en ek jubel oor die voorreg wat ek het om vir U teenwoordigheid in my lewe te mag vra. Here vervul my lewe, Here ek is honger vir U vreugd en U vrede. Here, in die skrif in JOHANNES 15:11 se U “"Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.” God U gee ons hier opdrag om in blydskap te lewe, Here dis daar ons moet dit net aangryp. Vader help ons om vandag en elke dag hierna U blywende blydskap aan te gryp en in U liefde te leef.
Amen.
Mag ek dan saam met my blog, hierdie nuwe baadjie, hierdie Priesters Kleed aantrek, en mag jy ook geïnspireer word om jou God te gaan ontmoet eerder as om net nog meer oor Hom te leer.
Wednesday, July 23, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment